Help gemeente om 500 Bybels te koop

TER viering van die 500ste herdenking van die kerkreformasie van 1517, beoog die NG Gemeente Kempton Park-Noord om 500 Bybels bymekaar te kry om in die omgewing te versprei.

Die gemeente is reeds besig met ‘n aantal eredienste in aanloop tot die viering van die 500ste herdenking van die reformasie van 1517.

Vir die afgelope twee maande word eredienste oor die rede vir die hervorming en gebeure daarom en die belangrikheid daarvan deur die leraars, ds Bert van Zyl en ds Albert Cruywagen aangebied.

Die fees word hierdie jaar ingesluit by die gemeente se tweejaarlikse groot fondsinsameling  wat op 29 Oktober sy hoogtepunt bereik. Daar sal op daardie Sondag ‘n gesamentlike erediens wees met die buurgemeente van die Hervormde Kerk Zuurfontein.

‘n Kooroptrede word beplan en ‘n gedenksteen sal deur Impala Voortrekkerkomando in die kerk onthul word ter nagedagtenis van die hervorming.

Op Saterdag 28 Oktober  sal die dag gewy word aan die verkope van eetgoed soos op ‘n basaar. Daar sal egter ook ‘n voorstelling wees van Martin Luther se vasslaan van sy 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg, asook ‘n paar sangitems vanuit die gemeente se geledere

Die dag sal met ‘n gesamentlike braai afgesluit word. Vleispakkies word teen R50 voorsien en sluit pap of broodrolle, bredie en eetgerei in.

Hoewel  hierdie ‘n fondsinsameling vir die gemeente is, is besluit om ‘n gedeelte van die opbrengs aan te wend vir die verskaffing van 500 Bybels. Om dit moontlik te maak, word ongeveer R20 000 benodig. Dit lyk amper onhaalbaar vir hierdie gemeente, maar hulle glo dat die Here ook hierdie poging moontlik sal maak.

Die gemeenskap se ondersteuning vir hierdie funksies sal waardeer word.

‘n Beroep word gedoen op al Kemptonpark se Christene om die gemeente te help om hierdie 500 Bybels in die stad te kan versprei.

Persone wat graag die Bybelprojek wil ondersteun, word verseker dat hul volle bydrae vir Bybelverspreiding aangewend sal word en nie gedeeltelik vir gemeentefondse sal wees nie.

Enige bydraes vir die 500 Bybels kan in die kerk seAbsa-rekening betaal word. Die rekeningnommer is 260580035 met die verwysing “500”.

As jy ‘n kontantbydrae wil maak, kan dit weeksdae tussen 9vm en 12nm by die kerkkantoor in Highveldweg 99 gedoen word.

Vir enige verdere inligting, skakel Janet Kunniger by 011 970 1585 of ds Bert van Zyl by 082 903 0429.

  AUTHOR
Kempton Express

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Enjoy Heritage Day at the transport museum