Impies maak skool toe om Hemelvaart te vier

DIE gesig sal nie vanjaar by Laerskool Impala se Hemelvaartvieringe te sien wees nie, maar die Impies se herdenking van dié dag gaan voort.

LAERSKOOL Impala sal op 25 Mei, Hemelvaartdag, gesluit wees om die dag aan ons Skepper op te dra.

Mnr Theo Gouws, die skoolhoof, het gesê hulle het toestemming van die onderwysdepartement gekry om dit te doen.

“Wêreldwyd word daar baie krities na Christene gekyk en die aanklag is dat Christene nie hul Christenskap uitleef nie. Dit is baie belangrik dat ons as Christene sal opstaan vir ons Christenskap in ‘n moderne tyd waar ons en ons geloof bevraagteken word,” het hy gesê.

Daar sal op 25 Mei om 7.30vm ‘n kerkdiens by die skool gehou word.

“Ons wil graag hê dat al ons Impies en hulle ouers, familie, vriende en die gemeenskap die diens saam met ons kom meemaak,” het Gouws bygevoeg.

Die diens sal, afhangende van getalle, in die skoolsaal of die pawiljoen plaasvind.

Impala het Hemelvaart die afgelope jare met groot liefde en passie vir sy leerlinge en ouers aangebied. Die loslaat van ballonne en wit duiwe die afgelope aantal jare sal nog lank onthou word.

“Ons gaan nie weer ballonne vrylaat nie, omdat ons sensitief is vir die gevaar van omgewingsbesoedeling.”

Die normale Hemelvaartverrigtinge gaan, soos in die verlede, op 24 Mei in skooltyd vir die hele skool aangebied word. Inwoners is welkom om ook dié verrigtinge by te woon.

Latest News

Top
Next Story x
Conned clients all pitch up at the same flat at the same time